Monday, August 11, 2008

Geloofs strukture

Psa 24:4 Hy wat rein van hande en suiwer van hart is, wat sy siel nie ophef tot nietigheid en nie vals sweer nie.
Psa 24:5 Hy sal seën wegdra van die HERE en geregtigheid van die God van sy heil.

Die Woord van God is n woord van hoop en beloftes. Die boodskap is een van oorwinning in elke opsig van ons lewe. Vir elke menslike gevoel is daar n oplossing in God se Woord. Slegs God se volmaakte plan in ons lewens bring volmaakte vrede.

Daar is dalk ander mense soos ek wat ook glo dat God doen wat Hy beloof, maar kort kort voel ek dat ek Hom bietjie moet help. Ek bid oor n saak en glo dat God gaan voorsien en dan begin ek werk om die rigting van die hulp te bepaal en dit bietjie vinniger te maak. God moet baie keer afkyk en glimlag as Hy sien hoe ek poog om dinge te laat gebeur wat Hy klaar laat gebeur het.

As mens na Psalm 24 kyk het dit te doen met die verskuiwing van die vebondsark na Jerusalem. Die ark was die simbool van God se teenwoordigheid onder die volk. Net volkome toegewydheid aan God kan ons die lewe gee van oorwinning. Net n volkome toegewyde priester kon in die allerheiligste ingaan. Dawid was so opgewonde om die ark terug te kry in Jerusalem dat hy nie gedink het aan die voorwaardes van God se teenwoordigheid nie. Ons moet heilig leef. Net so raak ons opgewonde oor iets wat in ons lewens moet gebeur, maar die strukture in ons lewens maak dit onmoontlik vir God om in die huidige omstandighede te seen.

Sa 6:6 En toe hulle by die dorsvloer van Nagon kom, het Ussa sy hand uitgesteek na die ark van God en dit vasgehou, want die osse het gestruikel.

2Sa 6:7 Daarop het die toorn van die HERE teen Ussa ontvlam, en God het hom daar getref oor dié vergryp, sodat hy daar by die ark van God gesterf het.

Dit het my weereens laat besef hoe hoog God sy verhouding met ons ag. Hy wil eerste in ons lewens wees sodat Hy sy liefde en seen aan ons kan skenk.

1Sa 7:3 Maar Samuel het met die hele huis van Israel gespreek en gesê: As julle met jul hele hart julle tot die HERE bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astartes onder julle uit, en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red uit die hand van die Filistyne.

Samuel se hier vir die volk om die strukture in orde te kry, sodat God in hulle midde kan beweeg. Maak huis skoon.

In Psalm 24 verwys Dawid dat die strukture van ons lewens so opgestel moet wees dat God ons kan seen.

God se vereiste
"Hy wat rein van hande en suiwer van hart is"

God se belofte.
"Hy sal seën wegdra van die HERE"

Ek het weer begin om te kyk hoe lyk die omstandighede en strukture waarin ek verwag om God se seen te ontvang. Ek moes bely voor God dat my strukture nie opgestel was om sy heerlikheid en teenwoordigheid te ontvang nie. Soos Dawid moes ek terug staan en besef dat God se oorvloedige seen slegs plaas vind in God se teenwoordigheid.

Die vraag wat ek moes antwoord was:
1. Hoe lyk my besigheids strukture vir God se teenwoordigheid.
2. Hoe lyk my familie strukture vir God se teenwoordigheid.
3. Hoe lyk my verhoudings strukture vir God se teenwoordigheid.
4. Hoe lyk my woning strukture vir God se teenwoordigheid.
5. Is ek bereid om nee vir n groot besigheidstransakies te se waaroor ek lank gebid het en baie nodig het omdat die mure om my tuimel van bankkrotskap, maar God pas nie in daardie strukture in nie.

Geen oorwinning sal ooit n oorwinning sonder God wees nie.

Joh 3:16 Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê

Dankie Here.