Wednesday, March 5, 2008

Tuesday, March 4, 2008

God leef deur sy Gees in jou


“God, die Allerhoogste, woon egter nie in geboue wat deur mense gemaak is nie”

(Hand 7:48).

Lees Handelinge 7:45-53

Die feit dat daar in groot dele van die Westerse wêreld al minder mense is wat kerk toe gaan, is ’n bron van groot kommer vir die kerkleiers van vandag. Een van die hoofoorsake vir gemeentes wat sterf, is egter die feit dat soveel mense daarmee tevrede is om God te beperk tot die plek waar hulle Hom elke week formeel gaan aanbid.

Die God wie ons aanbid, is die lewende God. Hy leef in die opge­stane Here Jesus. Dit is ongetwyfeld so dat jy Hom ontmoet wanneer jy Hom in jou kerkgebou aanbid en wanneer jy die Bybel lees, lofliedere sing en jou gebede tot Hom opstuur. Maar dit is nie moont­lik om die kerkdeur te sluit en Hom in die gebou agter te laat, of om Hom te beperk tot die bladsye van die Bybel of jou liedboek nie. Wanneer jy dit doen, sal die vlam van jou geloof al hoe dowwer flikker en uiteindelik doodgaan.

Jy self is God se tempel, en om te kan groei in genade en die louter vreugde van die lewe in Christus te geniet, moet jy jou voorberei om Jesus in aanbidding tydens jou stiltetyd te ontmoet. Nadat jy dit ge­doen het, is dit uiters noodsaaklik dat jy Hom sal toelaat om beheer te neem oor jou hele lewe. Só sal die lewende Christus, deur die werk van die Heilige Gees, jou lewe in so ’n mate vervul dat jy ’n weerkaat­sing van sy heerlikheid sal wees in alles wat jy doen. Jy sal die lewe in al sy volheid leer ken. As gemeentelede dít weer met oorgawe doen, sal ons gemeentes weer bloei en ware lewe beleef.

Gebed Heilige Gees van God, maak my hele lewe ’n openbaring van die liefde van God.

Die Heilige Gees is die geheim van die krag in my lewe. Al wat ek moet doen, is om my aan Hom oor te gee.

KATHRYN KUHLMAN

Uit: Wandel digby Christus, Solly Ozrovech se nuutste Bybeldagboek.

Om te bestel skakel 0860 231 231 of besoek www.luxverbi-bm.com