“Toe sê Jesus vir hom: ‘Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo’”(Joh 20:29).
Lees Johannes 20:26-31
Ons leef in ’n tyd waarin mense skepties is oor baie dinge. Ander ondersteun weer die teorie dat die algemene gebrek aan morele waardes tot hierdie stand van sake bydra. Wat die rede ook al is, die feit is dat bitter min dinge in hierdie moderne tye op gesigswaarde aanvaar word.
In sommige gevalle sluip hierdie gesindheid van skeptisisme selfs mense se geloof binne. Daar is groot getalle van mense wat, soos die dissipel Tomas, eers ná ’n sigbare teken begin glo in die werklikheid van God. Dit is mense wat op logika en intellek vertrou, in plaas van op geloof en vertroue.
Jesus, die lewende Christus, roep al sy volgelinge op om in Hom te glo. En Hy belowe dat Hy in ons lewe teenwoordig sal wees wanneer ons in Hom glo. Deur sy Gees kom woon Hy in ons hart en beheer Hy elke faset van ons lewe.
Om te glo sonder om te sien verg ’n daad van geloof, soos Tomas uitgevind het. Maar dit lei inderdaad tot ongekende vrede en gemoedsrus wat jy ervaar en sal jou in staat stel om, soos Tomas, hierdie woorde van oorgawe en aanbidding te uiter: ”My Here en my God!“ (Joh 20:28).
Gebed :
“Sal ek die majesteit se gloed as sondaar ooit kan nader? Goddank! Versoen deur Jesus bloed, is God ook nou my Vader. Nou klink my lied: Die Heer is goed, die Heer is onuitspreeklik goed, oneindig sy genade”
(Lied 499:3).
Waar leef jy? Menige gelowige leef in die “kothuis van twyfel” terwyl hulle kan leef in die “herehuis van geloof”.
CHARLES HADDON SPURGEON
Uit: Wandel digby Christus, Solly Ozrovech se nuutste Bybeldagboek.
Om te bestel skakel 0860 231 231 of besoek www.luxverbi-bm.com
No comments:
Post a Comment